Dis die nuwe seisoen. Die tyd van perfekte ewewig. Die tyd van die equinox op 22 September wanneer dag en nag ewe lank is, en die oorskakeling van koud en donker na lig en nuwe lewe plaasvind.
Dis ook die tyd van ‘n wonderwerk as ons Southern Right walvisse na ‘n duisende km lange tog vanaf Antartika hier aankom om nuwe lewe te begin in ons warmer beskutte waters. Hierdie enorme diere wat ongeveer 50 ton weeg en 15 meter lank is, kom elke lente na presies dieselfde plek terug om te paar en geboorte skenk. Die bulle is toegerus met die grootste testikels van enige lewende dier (500 kg elk) en die nuwe moeders wat kalf moet ongeveer 500 liter melk per dag produseer om die nuutgebore kalf van 5 meter lank te voed.
Na ‘n bykans totale uitwissing teen 1960-1980 in Suid Afrika en wêreldwyd is daar ingevolge wetgewing in 1986 ‘n wereldwye verbod op die jag van walvisse geplaas deur die Internasionale Walviskomissie. Die Southern Rights het ‘n nuwe begin gekry en verblydend aangegroei van ongeveer 1 500 tot ongeveer 10 000 wêreldwyd. Japan het jammerlik op 26 Desember 2018 van die Internasionale komissie onttrek, en het weer begin walvis jag gedurende Julie 2019 binne hulle eie territoriale waters.
In Suid Afrika het die walvis industrie gelukkig omgekeer van industriele jag na toerisme. Walvisse se gehoor is uiters sensitief en kommunikeer hulle oor baie lang afstande. Ten einde hulle te beskerm is daar wetgewing in plek dat geen boot sonder ‘n permit nader as 300 meter van ‘n walvis kom nie, en permithouers nie nader as 50 meter, en vir langer as 30 minute nie. Die bootspoed mag ook geen golwe veroorsaak nie.
Die globale krisis van besoedeling verdien ook ‘n skoon begin. Die gebruikstyd van ‘n plastieksak is ongeveer 20 minute, en die besoedelingstyd tot dit afgebreek is neem tot 1000 jaar. Plastieksakke word vervaardig deur ‘n proses waar toksiese middels soos polypropelien, petroleum en gas gebruik word. Tydens die afbrekingsproses word PAH (Polycyclic Aromatic Hydrocarbons) en PCB (Polychlorinated Biphenyls) afgeskei wat hormoonversteurings en kanker veroorsaak. Die energie wat vrygestel word vir die vervaardiging vir 9 plastiek sakke kan ‘n motorvoertuig vir 1 km aandryf. Die impak van die vervaardiging en afbreek proses lei direk tot aardverhitting en negatiewe ekologiese gevolge. Die ontsiering van dorpe en die natuur is oral om ons.
Ongeveer vyfduisend tot ‘n miljoen fragmente plastiek is na berekening per vierkante kilometer in die oseane. Die seelewe raak nie net verstrengel in plastiek nie, maar neem ook plastiek in.Dit veroorsaak verstopping van visse en en seediere en vergiftiging en dood. Die toksiteit van seevis word weer oorgedra op mense wat vis eet met gepaardgaande verhoging van kanker.
Verskeie lande waaronder Kenia Nigerie en Somalie het reeds die voortou geneem met wetgewing en plastieksakke totaal verban. China se verbod het binne 4 jaar tot ‘n afname van 40 biljoen sakke gelei. In die VSA het verskeie areas soos Hawaii , Maine en nou ook New York begin met ‘n totale verbod. Suid Afrika moet volg. Maar ons as inwoners van die mooiste deel van die wereld kan nie wag vir wetgewing nie.
Dis tyd dat ons skoon begin. Kom ons bewonder die natuur tydens lente en hou ons dorpe plastieksakvry!
“Spring is the time for plans and projects-Tolstoy”